Ruimte

Die grens tussen die Aarde se oppervlak en die buitenste ruim by die Kármán-lyn op 100 km, en die eksosfeer op 690 km. (Nie volgens skaal.)

Die term ruimte of buitenste ruim word in sterrekunde gebruik om die "leë" ruimte tussen hemelliggame, ook die Aarde, te beskryf. Dit is nie werklik ’n leë ruimte nie, maar bestaan hoofsaaklik uit plasma van waterstof en helium, asook elektromagnetiese straling, magnetiese velde en neutrino's. Onlangs is ook bewys dit bevat donker materie en donker energie. Die gemiddelde temperatuur is net 2,7 K (kelvin); daarteenoor kan die korona van sterre ’n temperatuur van tot meer as ’n miljoen kelvin hê. Plasma met ’n uiters lae digtheid (minder as een waterstofatoom per kubieke meter) en hoë temperatuur (miljoene kelvin) in die ruimte tussen sterrestelsels beslaan die grootste deel van die gewone materie in die buitenste ruim; lokale konsentrasies het sterre en sterrestelsels gevorm. Die ruimte tussen sterrestelsels beslaan die grootste deel van die ruimte van die heelal, maar selfs sterrestelsels en stergroepe bestaan meestal uit ’n leë ruimte.

Daar is geen spesifieke grens waar die ruimte begin nie. Die Kármán-lyn, 100 km bo die seevlak, word egter tradisioneel as die begin van die ruimte beskou vir die doel van ruimteverdrae en lugruimrekords. Volgens die Verenigde Nasies se Ruimteverdrag van 1967 het geen land ’n aanspraak op die ruimte nie en kan almal dit vrylik verken. In 1979 het die Maanverdrag die oppervlak van voorwerpe soos planete, sowel as die ruimte om dié voorwerpe, verklaar tot die jurisdiksie van die internasionale gemeenskap.

Die mens het in die 20ste eeu begin met die fisieke verkenning van die ruimte – eers met hoë ballonvlugte en daarna danksy die ontdekking van een- en meerfase-vuurpylaandrywers. Joeri Gagarin van die Sowjetunie was in 1961 die eerste mens wat om die Aarde gewentel het en onbemande ruimtetuie het intussen al die bekende planete in die Sonnestelsel besoek. Die ruimte is ’n uitdagende omgewing vir die mens weens die gevare van vakuum en straling. Die klein swaartekrag het ’n nadelige uitwerking op die menslike liggaam; dit veroorsaak spier- en beenverlies. Bemande vlugte was tot nou beperk tot ’n lae wentelbaan om die Aarde en die maan, en onbemande vlugte tot die Sonnestelsel; die res van die ruimte kan net deur waarneming deur teleskope verken word.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in